André en Marlize: Die ontmoeting {Regte Bruide}

Wanneer iemand vra hoe het ons ontmoet, kry ek altyd ‘n glimlag.

Ons ontmoeting is iets ongewoon en anders, nie iets wat mens baie van hoor nie, en dit is wat dit vir my so spesiaal maak.

Ek is ‘n skaam persoon en maak nie maklik nuwe vriende nie. So het dit gebeur dat ons begin gesels het op ‘n kletskamer. Ons kon vir ure oor die foon gesels en die volgende dag net verder gesels. Na ‘n hele paar maande het hy my gevra om te gaan vir ‘n koffie.

Ons het toe vir die eerste keer “ontmoet” by die Santa Rosa Spur. Hy het my bederf met ‘n heerlike ete en ‘n paar uur later was dit tyd om huis toe te gaan.

Dinge was baie anders as op die foon. Ons was albei maar skaam. Ons kon mekaar skaars in die oë kyk en het nie veel vir mekaar gesê nie. Hy het dadelik besluit dat ek sy trou vrou is. Ek het nog oorreding nodig gehad, maar dit het nie lank geneem nie. Van daardie aand af, het hy elke Maandag deur gery om vir my te kom kuier. Hy was daardie tyd nog ‘n Restaurant Bestuurder by ‘n plek in Germiston en het net Maandae af gehad.

Indirek was ons toe al ‘n paartjie, maar ons het dit eers amptelik gemaak terwyl hy vir twee maande oorsee was. Hy het vir ‘n ruk lank by sy suster in die Cayman Islands gaan kuier. Dit was toe dat ek besef, ek het hom werklik lief.

Ons was vir agt maande in ‘n verhouding toe hy besluit het dis tyd om die groot vraag te vra. Ons het mekaar toe al vir meer as ‘n jaar geken, en hy het besluit hy is nou klaar gewag. Hy het eers my pa se toestemming gevra om met my te kan trou. Hy het dit alles beplan en ek het niks vermoed nie.

Hy het my die dag voor Moedersdag (13 Mei 2017) al begin bederf. Hy het my uit geneem vir ysskaats by The Grove Mall en daarna het ons heerlike Ocean Basket gaan eet (my gunsteling).

Die volgende oggend, op Moedersdag (14 Mei 2017) het hy my uitgeneem na Harties toe vir die dag. Ons het begin met ontbyt by The French Toast Koffie Kafee. Daarna het hy my na The Cableway geneem. Ons het met die kabel karretjies opgegaan en bo-op die berg gaan rondloop en ietsie warm gedrink, want dit was baie koud. Toe dit tyd was om af te gaan het hy vir my gesê daar is nog een plek waarheen ons moet gaan.

Ons het op die karretjie geklim, en hy het vir my gevra of ek regtig wil weet waarheen ons gaan. Nuuskierige ek wil mos natuurlik weet. Hy het vir my gesê ek moet my oë toe maak. Die volgende ding wat ek hoor is hy dat vir my vra om sy vrou te word. Ek kon net my kop skud, die woorde wou nie kom nie. Hy het toe die mooiste roosgoud ring aan my vinger gesteek.

Ons het besluit ons wil die Desember volgende jaar trou, en het nou al ‘n paar van die besprekings afgehandel. Ek is baie opgewonde oor die troue. Ek kan nie meer wag nie al is dit nog ‘n rukkie. Ons albei het die selfde idee oor wat ons soek vir die troue, en dit maak die beplanning net soveel meer pret….

Marlize Potgieter en André van der Vyver bly in Centurion en beplan om op 15 Desember 2018 te trou.