André en Marlize: Die prentjie {Regte Bruide}

As ‘n klein dogtertjie was dit my droom om soos ‘n prinses te voel (en te lyk) op my troudag. Ek dink dis maar elke meisie se droom om alles perfek te hê.

Vir my is dit nou meer oor die “memories” as oor hoe dit lyk. Ek sal veel eerder ‘n leeftyd se herinneringe maak, as om so ‘n mooi dag suur te maak oor hoe, wat en waar.

Die idee vir ons troue is om ‘n klein en intieme troue tydens die somer te hou. Ons wil graag die seremonie in die middag hou, sodat ons nog pragtige foto’s van die sonsondergang kan kry saam met die troufoto’s.

My verloofde (André) wil graag ‘n bosveld-tema hê, en ek dink dit gaan baie mooi lyk. Ek hou nou weer van die vintage-idee en ons twee het toe besluit om die twee idees saam te sit.

Ons het in die begin so effens gesukkel om dit bymekaar te laat pas. Gelukkig het ons ‘n wonderlike trou-koördineerder wat baie kreatief is. Sy het ons altwee se idees geneem en die wonderlikste tafel-dekor bymekaar geskraap. Die roesbruin met poeier blou en kant het ons almal so opgewonde dat ek sommer more al wil trou. Die kandelaar bo-op is letterlik die kersie op die koek. Ek moet myself gereeld keer om nie die foto’s van die dekor vir almal te stuur nie. Ons gastelys is nou wel klein, maar ek wil nie die verrassing bederf nie!

Ek dink een van die grootste uitdagings wat tot nou toe ontstaan het is die gastelys. Dit is so moeilik om die een niggie te nooi en nie die ander een nie. Ons het besluit om net die mense te nooi wat werklik deel van ons lewens is. ‘n Troue is duur en om almal te nooi is net ekstra uitgawes wat op ander plekke gebruik kon word.

Ek is baie opgewonde oor ons troue. Dit is vir my baie lekker om die projek saam met André aan te pak en elke detail tot in die fynste te beplan. Elke dag is ‘n avontuur en daar is soveel tyd om met idees te speel en te beplan. Dit maak alles net lekkerder.

Marlize Potgieter en André van der Vyver bly in Centurion en beplan om op 15 Desember 2018 te trou.