Anelma & CP: PRENTJIE {Regte Bruid}

Elke dogtertjie het mos haar eie droom oor haar troudag. Ek wou natuurlik nooit in ‘n boksie geplaas word nie.

My droom was om ‘n seetroue te hê. Nie die normale strandtroue nie, maar binne-in ‘n akwarium voor die haaitenk. Ek in my asemrowende wit trourok met my man in ‘n stylvolle pak en familie en vriende om ons.

Natuurlik was my droom geensins realisties nie. Dit moes ek agtergekom toe ek die akwarium waarvan ek gedroom het nader en hulle my meedeel dat hulle dit glad nie doen nie.

Ek en my wonderlike verloofde het toe besluit dat ons ‘n troue wil hê waarin jy ONS kan sien en voel. Ons is plat op die aarde mense, al is ek so bietjie soos ‘n meermin wat hou van enigiets wat blink. Ons het besluit op ‘n troue waar almal dit kan geniet en ons lekker saam met die gaste kan kuier. Na die onthaal wil ons langs ‘n vuur kan sit en verder kuier.

Ons droom is om ‘n dag te hê wat ons nie wil hê moet ophou nie.

Ek wil hê die hele onthaal moet vol kerse wees, so vandat ek verloof geraak het, het ek en my ma al begin kerse koop. Die idee daarmee is dat dit romanties moet wees, en vir my is daar niks meer romanties as ʼn plek vol kerse en sagte lig nie. Ons gaan ook nie baie blomme hê nie. Slegs groenigheid hier en daar. As ons ‘n tema moes hê sou ek sê dit is romanties en minimalisties.

Ons het besluit om ‘n middelgrootte troue van 100 mense te hê. Ons trou 25  Augustus, omdat dit steeds winter, maar ook nie meer so erg koud is nie. Ons gaan om 15:00 trou (as ek betyds is bygesê!) sodat ons nog genoeg tyd het vir foto’s voordat die son sak.

My rok is ‘n Diaan Daniels-skepping vol kant en is in die meerminstyl.

Die probleem in hierdie tyd van jou beplanning is, jy het soveel besluite om te maak, en almal wil maar hulle twee sent vir jou bylas of hulle prentjie op jou afdwing. Ek en my verloofde moes mooi gaan sit en dink wat ONS wil hê en moes ‘n punt daarvan maak om by dit te hou. Dit het vir my begin voel of ek nooit ‘n besluit gaan kan maak nie. Tot dusver help dit my nog elke dag om my prentjie te vorm en om sterk te staan en om vir almal, familie, verskaffers, vriende en ander weldoeners te sê: “Baie dankie vir jou insette, maar ons wil graag by ONS prentjie en sprokie hou”.

Ek word elke dag meer en meer opgewonde oor die troue en moet ek myself keer om nie die tyd om te wens sodat dit nou ons troudag kan wees nie!

 

Anelma Beer en CP Riechert trou op 25 Augustus 2018

Kry die nuus eerste!!
Kry ons nuutste nuus!
Ons nuusbrief bevat al die nuwe troues en nuus om jou te help met jou perfekte troudag!
Teken in
Sien uit om jou te ontmoet! 
close-link

This website is maintained by

%d bloggers like this: