Anelma & CP: VENUE {Regte Bruid}

Ek voel die venue speel ‘n baie groot rol in jou troue en vir ‘n bride-to-be is dit ‘n ongelooflike gewigtige besluit om te neem.

Nie net is die een van die duurste uitgawes van die hele troue nie, maar dit bepaal ook die hele gevoel van jou troue. Vir my en CP was die volgende baie belangrik:

  • Genoeg plek vir oorslaap, want ons familie is groot en die meeste van hulle hou van kuier;
  • Die kapel. Die hoofdeel van trou is tog die seremonie en ek wou iets baie besonders hê;
  • Ons moet na die verrigtinge ‘n vuur kan maak; en
  • Die pakket vir die venue moet soveel as moontlik insluit vir ons begroting van 100 mense.

Ek het kwotasie by (wat voel soos) 100 venues gekry – miskien oordryf ek so bietjie maar dit het regtig so gevoel. Maar baie van hulle was heeltemal buite ons prysklas. Daar was ‘n handvol waarvan ek regtig gehou en wat binne ons begroting geval het en ons het afsprake gemaak om hulle te gaan sien.

Een van die plekke was Out of Africa. Die eienaar is Craig du Toit Nel, maar in daardie stadium het ek geen benul gehad wie hy is of van sy videos gesien nie.

Ek het nie geweet hy is betrokke by twee venues nie en op die dag maak hierdie bruidjie toe ‘n groot fout en laat ons na die verkeerde venue ry. Ek het hom heel benoud gebel en hy sê toe ons moet net daar wag, hy is op pad. Craig was so behulpsaam.

Intussen het ek en CP toe die “verkeerde” venue deurgekyk en saam besluit dit is glad nie wat ons in gedagte het nie. Toe Craig daar aankom, het ons hom vertel ons het van plan verander en wil eerder na die ander venue gaan kyk. Sonder stry klim hy in sy kar en gaan wys ons die ander plek. Hy was nooit ongeskik of geïrriteerd dat ons hom so rond(neuk) nie!

Vanselfsprekend het ons drie begin gesels en dis duidelik dat Craig ons visie heeltemal verstaan. Hy stem saam met ons oor baie goed en as hy verskil, dwing hy nie sy mening op ons af nie.

Ons is baie gerus met Craig om alles aangaande die troue te hanteer en op die dag as ons koördineerder op te tree.

Ons het uiteindelik op hierdie venue besluit omdat dit binne ons begroting val en die kapel regtig besonders is. Ek kon al in my verbeelding sien hoe ek in die paadjie afloop!

Die venue gee vir ons ‘n wildtuin-gevoel en daar is tot kameelperde op die perseel.

Die pakket is baie omvattend met die kapel, onthaalarea, ontvangsarea en dinge soos konfetti, personeel – kroegmanne en kelners, eetgerei, tafeldoeke, overlays en alles wat daarmee saamgaan, ingesluit.

Vir die kos sluit dit vyf tipes canapés – ons het nog nie daaroor besluit nie, vier tipes pizzas om uit te kies vir die hoofgereg – dis ons weird keuse, vier keuses vir nagereg en ‘n roomysmasjien in.

Ons voel die pakket is baie goed en as ‘n bonus is die verblyf ook bekostigbaar.

Baie mense sê dat die beplanningsdeel van jou troue die lekkerste deel is. Tot dusver was dit regtig lekker, maar ook baie stresvol.

Dit voel of julle baie keer in twee geskeur word met besluite en soms verstaan jou bruidegom nie. “Liefie, die troue is nog ver! Ons het nog baie tyd om daaroor te dink.” Maar die werklikheid is dat sekere spesiale aanbiedinge net so lank hou en dat datums vir troues baie lank vooruit bespreek word.

Op hierdie stadium van die beplanning sit ek gereeld terug en dink: “Wow, hierdie gebeur regtig. This is about to get REAL!”.

 

Anelma Beer en CP Riechert trou op 25 Augustus 2018

Kry die nuus eerste!!
Kry ons nuutste nuus!
Ons nuusbrief bevat al die nuwe troues en nuus om jou te help met jou perfekte troudag!
Teken in
close-link

This website is maintained by

%d bloggers like this: