Clarise & Pieter {Straattroue: Karoostof en eenvoud}

  • Tema van jou troue: Straattroue: Karoo stof en eenvoud

Persoonlike Inligting:

  • Naam van Bruid: Clarise (Haasbroek) Cockeran
  • Naam Van Bruidegom: Pieter Cockeran
  • Datum en Tyd van troue: 14 Oktober 2017
  • Venue/plek van troue: Hanover: Darlingstraat
  • Aantal gaste: 130

Diensteverskaffer Inligting:

  • Trou Koördineerder: geen
  • Fotograaf: Organictales (Landi Groenwald)
  • Bruid en bruidmeisie rokke: bruid: Moda
  • Bruidegom en mans pakke: bruidegom: Queenspark
  • Blomme: Melikhaya Event Concepts
  • Dekor: Melikhaya Event Concepts
  • Koek: geen
  • Spyseniering: Hanover Boutique Guesthouse

Oor die bruidspaar:

  • Hoe en waar het julle ontmoet:

Dit was ‘n reënerige romantiese dag op Facebook. ‘n Koffie-afsrpaak het gelei tot ‘n trou-datum.

  • Hoe lank het julle mekaar geken:

2 jaar

  • Hoe en waar het hy jou gevra om te trou (of jy vir hom):

Onwettig, het ons op my 24ste verjaarsdag oor die hemelhoë heining van die watertoring in Heuwelsig (Bloemfontein) geklim. Bo-op die watertoring het Pieter gevra of hy vir my kan bid.

Ek het my oor teen sy bors neergesit tewyl hy bid en ons oor die stad kyk. Skielik merk ek toe op dat die man se hart vreeslik vinnig klop. Ek het gewonder of hy aan ‘n hoogtevrees ly waarvan ek nie weet nie? Maar dit is na sy “amen” toe hy op sy een knie neersak dat ek ook ‘n skielike hoogtevrees onder lede het!

  • Die troue (van a-z):

Ons wou graag ‘n unieke troue hê wat nie tradisie nie, maar ons persoonlikheid weerspieël. Pieter was op daardie stadium predikant in Hanover in die Noord-Kaap. Dit is ‘n pragtige Karoo-dorpie met warm mense, mooi argitektuur en pragtige eenvoudige natuur. Dan sing Laurika Rauch en Lize Beekman boonop van Hanover se Darlingstraat. Daar wou ons troue!

Ons het eers ‘’n stoor-troue oorweeg… maar toe later die straattroue idee gekry.

Ons was baie opgewonde om saam met Jan Sauer (Gastehuis) en Alfred (blomme en dekor) te werk. Hulle was net so passievol vir iets anders.

Ons het lang houttafels op die stofpad van Darlingstraat gedek met wit Tiffany stoele en baie liggies en kandelare bo die dansbaan – en bo dit, die Karoo-sterrenag.

‘n Wit dansbaan is gebou en die pragtige kerk wat belig is was die mooi agtergrond van die onthaal.

Blomme is nie vrylik beskikbaar in die dorpie nie en daarom het ons Proteas bestel – dit bly langer vars, kon maklik afgelewer word sonder skade en ons is mal oor Proteas.

My trourok was op uitverkoping by ‘n winkel wat toegemaak het en my lang man het verbasend maklik ‘n pak by Queenspark gekry.

My ring is deur my man ontwerp en sy ring is ‘n houtring wat ek as geskenk van Praag gebring het.

Ons het nie ‘n gevolg of ‘n troukoek gehad nie. Ons het goeie vriende en familie en heerlike kos geniet! Die dorpie het skielik lewe gekry op ons trou-naweek, wat ‘n groot opwinding!

Ons fotograaf en videograaf was ongelooflik!

Fotograaf: https://www.organictales.com/karoo-street-wedding-cape-town-wedding-photographer/

Videograaf: https://www.youtube.com/watch?v=BOoXasaDeZg

Dit was ‘n ongelooflike voorreg dat my pa my pa die kansel weggegee het en hy ons huwelik kon bevestig.

Gaste het drankies en eetgoedjies langs die pragtige kerk geniet terwyl ons foto’s gaan neem het by plekke wat ons na aan die hart lê.

Die geskenkies aan gaste is hekel-blommetjies wat my skoonma gemaak het. My man en ons eregaste het eers die blommetjies gedra en by die onthaal het my man toe aangekondig dat almal eregaste is en dat hulle blommetjies kan kom kies.

My skoonpa is skielik in my man se matriekjaar oorlede. Ter herinnering aan hom en ons oumas en oupas het ons hulle almal se troufoto’s uitgestal.

‘n Goeie vriendin het tjello gespeel vir ons dansliedjie. Hoewel die wind vreeslik gewaai het, het die atmosfeer glad nie weggewaai nie!

  • Raad vir toekomstige bruide:

Moenie bang wees om anders te wees nie. Dink kreatief, maak jou verloofde deel van die proses en pak iets aan wat julle twee na aan die hart lê. Vra raad, maar besluit self wat julle wil doen. Spandeer geld op die dinge wat vir jou belangrik is en vergeet van tradisies. Bou ‘n goeie verhouding met jou fotograaf – dit is lekker! Geniet elke oomblik!

 

  • Die beste deel van jul troudag:

14 maande voor ons troudag was my pa in ‘n vreeslike motor-ongeluk: ‘n dronk bestuurder het teen ‘n spoed oor ‘n rooi robot in my pa se kardeur vasgejaag. My pa het oorleef, wat ‘n wonderwerk! Hy het baie seer gekry, maar het nie een oomblik moed opgegee nie. Hy was in ‘n rolstoel vir lank, maar was vasberade om met sy nuwe heup te oefen om langs my in die paadjie af te stap. Ons almal was baie emosioneel soos hy homself regop gehou het tussen my en die kante van die kerkbanke. Voor het hy en my man mekaar omhels. Sjoe, onbeskryflik spesiaal!

 

Kry die nuus eerste!!
Kry ons nuutste nuus!
Ons nuusbrief bevat al die nuwe troues en nuus om jou te help met jou perfekte troudag!
Teken in
close-link

This website is maintained by

%d bloggers like this: