{Kollig Artikel}: Silver Star Function Hiring & Event Planning

‘n Hart, ‘n brein en ‘n silwer ster

Deur Trou Idees

Wanneer iemand hulle eie rol in hulle besigheid as die hart daarvan beskryf, dan weet jy dis nie nét besigheid nie. Maryke Minnaar is die mede-eienaar van Silver Star Function Hiring in Wonderboom, Gauteng.

Maryke en haar man Ben het die bestaande besigheid op 1 Maart 2016 gekoop. “Ben is die brein van ons besigheid,” sê Maryke. “Hy het die geleentheid gesien, die sommetjie gemaak en dadelik besef dat hierdie vir my ‘n passie gaan word. Ons spot gereeld ek is die hart en hy die brein, maar dis eintlik die waarheid en wat ons besigheid ‘n sukses maak.”

Sy het toe reeds ‘n kursus in funksiebestuur en -beplanning by die SA School of Weddings gedoen. Daarna het sy ook geleer om blomme te rangskik en saam met die dekor- en toerustingverhurings vorm dit ‘n omvattende diens. By Silver Star kan jy dus letterlik met niks instap en verseker wees dat jou hele funksie ‘n sukses gaan wees sonder dat jy te veel hoef te doen.

Dis juis die verskeidenheid en afwisseling wat elke kliënt bied, wat dit vir Maryke so lekker maak. “Geen dag of geleentheid is ooit presies dieselfde nie,” sê sy. “En dis vir my so bevredigend om elke dag met verskillende mense te werk. Om te sien hoe hulle woorde na papier en dan as ‘n eindproduk realiseer.”

Sy sê dit is ook wat die werk uitdagend maak. “Ons werk baie hard daaraan om aan almal se wense te voldoen, maar verskillende mense het verskillende verwagtinge. Dis soms nogal moeilik om dit wat die kliënt droom, as ‘n eindproduk te skep. Maar buitengewone diens en funksies is altyd ons doelwit.”

Dit kom voor asof Maryke, Ben en hulle span hulle baie goed van dié taak kwyt. In Junie vanjaar het hulle die oorspronklike besigheid uitgebrei deur al die toerusting, ‘n vragmotor en die bestaande kliënte van A Dash of Decadence te koop. Deur hierdie verbintenis is hulle nou ook die voorkeur-verskaffer vir die Pretoria Buiteklub (Country Club) se nege venues.

Afgesien van die lang, intense ure, veral wat blommerangskikking betref, en die fisiese werk van venues opstel en skoonmaak is die grootste uitdaging vir Maryke en Ben om dwarsdeur die jaar presies dieselfde besondere diens te lewer in besige tye as wanneer daar meer tyd beskikbaar is.

Met daaglikse ervaring het hulle die volgende raad vir voornemende bruidspare. “Goeie beplanning is die belangrikste deel van enige funksie,” sê Maryke. “Die bekende slagspreuk is nie verniet fail to plan, plan to fail nie.

“Mense het ook verskriklike hoë standaarde vir funksies, maar probeer dan alles self doen en dan is dit nie ‘n sukses nie. Dis onnodig. Daar is kundiges vir alles wat jy nodig het, maak gebruik van hulle.”

Silver Star Function Hire spesialiseer in die volgende dienste:

  1. Funksiebeplanning: Dit behels om ‘n funksie van begin tot einde te beplan en sluit voorstelle vir die gebruik van dekor en toerusting, venue besoeke en die uiteindelike uitvoer van die plan in. Silver Star put uit ‘n wye netwerk van verskaffers om die perfekte geleentheid saam te stel.
  2. Funksiekoördinering: Hierdie diens behels die koördinering van ‘n geleentheid op die dag daarvan om seker te maak dat alles van begin tot einde glad verloop. Dié diens beloop R1 600 vir tot agt ure.
  3. Drapering: Die drapering van materiaal om die voorkoms van venues en funksies te verbeter of verander. Die koste van drapering wissel van tussen R120 tot R170 per lopende meter afhangend van wat gedoen moet word. Feetjieliggies kan ook teen R80 per meter bygevoeg word.
  4. Blommerangskikking: Dit behels die aankoop, voorbereiding, rangskikking en opstel van blomme. Pryse hang af van die tipe blomme, hoeveelheid daarvan en die ingewikkeldheid van die rangskikking.
  5. Dekor- en toerustingverhurings: Silver Star beskik oor ‘n baie wye katalogus van items vir funksies. Kliënte kan die items self oplaai, maar die diens sluit ook die aflewering en oplaai daarvan in wat teen R4.40 p/km bereken word. ‘n Deposito van R200 word vir alle besprekings gehef.

Terugvoer van kliënte

~~ Albert en Marinda Delport het Silver Star genader om dekor-items te huur vir hulle wit-en-kristal-elegansie troue. Hulle begroting was redelik beperk en die paartjie was bekommerd dat hulle nie hulle droomdag sou kon bekostig nie.

“Ons droom almal van ons groot dag,” sê Maryke. “Maar, dit pas nie altyd by die realiteit van die begroting nie. Ons wou seker maak dat die Delports wel hulle droomtroue kry.”

Hulle het vir die kliënte ‘n betalingsplan opgestel en ‘n pragtige troue aangebied.

“Alles was pragtig, baie dankie vir alles wat julle gedoen het!” het hulle laat weet.

 

~~ Diana Sellers van Marketing2themax het Silver Star in Junie gekontak met ‘n versoek vir ‘n dringende kwotasie vir ‘n geleentheid wat hulle by Safari Outdoor sou aanbied. Hulle het eetgerei, borde, glase, tafels en stoele nodig gehad.

“Ons streef daarna om uitmuntende kliëntediens te lewer. Maar, soms is dit ‘n uitdaging om wanneer ons druk besig raak. Tydens die besige seisoen is dit nie altyd moontlik om dadelik op ‘n dringende versoek te reageer nie,” sê Maryke. “Maar in hierdie geval het ons moeite gedoen om onmiddellik te antwoord. Diana was so ingenome met ons vinnige diens dat sy nou maandeliks van ons dienste gebruik maak!”

 

Kontakbesonderhede:

Adres: Melt Maraisstraat 200, Annlin, Pretoria

            Telnr: 012 524 3390

Selnr: 063 689 6638

E-posadres: [email protected]

Webadres: www.silverstarhiring.com

Facebookadres: https://www.facebook.com/silverstarhiring/

Pinterest naam: Silver Star

Instagram naam: silverstarhiring

 

Trou Idees maak nie self van die dienste gebruik nie en maak staat op die eerlikheid van eienaars om ‘n akkurate weerspieëling van die produk of diens te gee. Enige terugvoer wat nie met hierdie artikel ooreenstem nie, kan gestuur word aan [email protected]. Dit sal na die betrokke besigheid verwys word vir kommentaar.