Wat mans moet weet en doen voor hulle troudag

Daar word altyd ‘n groot ophef van die bruid gemaak maar ons dink min daaraan dat die bruidegom deur net soveel stres gaan tydens die beplanning van sy groot dag.  Min mans wil regtig betrokke wees by AL die beplanning van ‘n troue, maar hulle wil tog deel wees, al sê hulle dit nie altyd nie.  Die bruidegom het self ‘n hele klomp verantwoordelikhede wat hy moet reël vir die groot dag.

Hier is ‘n lys waaraan die man moet aandag gee en beplan:

  • Kies jou gevolg
  • Jou bruid se ring: Laat sy vir jou opsies gee waarvan sy hou en kry kwotasies daarvoor. Kies dan ‘n ring en laat dit ‘n paar maande voor die troue maak.
  • Jou en jou gevolg se klere.  Besluit of jy ‘n pak klere wil huur, koop of laat maak. Bespreek jou gevoel hieroor met jou bruid om seker te maak dat jul kleurskemas daarby inpas. Indien jy gaan koop, kies iets wat jy vorentoe weer sal kan gebruik.
  • Stel ‘n gastelys op van jou familie en gaste wat jou ouers graag sal wil nooi en bespreek dit met jou bruid.
  • Dankie-geskenke vir jou gevolg.
  • Reël vir die huwelikskontrak om opgestel te word.
  • Reël jou en jou gevolg se slaapplek  vir die aand voor die troue en reël jou en jou bruid se slaapplek vir die aand van die troue.
  • Reël vervoer na die troue indien nodig.
  • Reël dat iemand vir julle die kamer opmaak indien die gastehuis dit nie self doen nie.
  • Skryf jou toespraak en maak seker van al die bedankings wat jy persoonlik moet doen.
  • Koop ‘n geskenk vir jou bruid wat aan haar gegee word voor die troue, iets spesiaal wat haar altyd aan daardie dag sal herinner.
  • Beplan die wittebrood. Indien julle dit saam beplan, maak seker jy reël iets ekstra vir jou bruid waarvan sy nie weet nie.

Dit bly vir ‘n bruid die dag waaroor sy van kleintyd af gedroom het, so probeer dus nie te veel wil oorneem nie.  Staan jou vrou by in die beplanning en weet waar en wanneer om jou voet neer te sit of waar om jou bydrae te lewer.

Artikel geskryf deur Melisandi Blomerus.