Werner & Yolandi {Regte Liefde}

Sy kyk op haar horlosie en besef sy gaan nie die werk klaar kry nie. Haar hande slaan uit in koue sweet. Sy het duur betaal vir vanaand se funksie en sy wil dit nie misloop nie. Sy loer weer na die tyd onder op die rekenaarskerm.

“Ek sal nie vandag klaar kry met die werk nie,” sê sy vir Susan. “Ek sal die werk huis toe neem en dit oor die naweek klaar maak. Ek het ‘n kaartjie gekoop vir Madame Zingara wat in Fourways is en ek moet nog van hier af terugry Pretoria toe, regmaak en in tyd by my vriendin se huis wees. Ons ry almal saam.”

Susan knik haar kop. “Dis reg Yolandi, jy kan dit maar klaarmaak wanneer jy kans het”.

Dankbaarheid spoel oor haar. As sy hierdie vrou beter geken het, het sy haar sweerlik ‘n druk gegee. Sy doen die nodige en sit die rekenaar af. By die kar gekom, sit sy die GPS aan om haar pad uit Middelburg se industriële area terug te kry N4-snelweg toe.

‘Ek sal oor so uur en ‘n half in Pretoria wees,’ dink sy by haarself. ‘Ek sal dit darem maak!’

Sy staan voor die kas en kan nie besluit wat om aan te trek nie en tyd is nie aan haar kant nie. Uiteindelik vang ‘n bruin rokkie haar oog. Dis meer ‘n herfsrokkie. Dis Mei-maand en sy weet nie of sy gaan koud kry as sy dit aantrek nie. Die moue is van kant. Haar oog vang weer die tyd op die selfoon en sy besluit dat sy nie tyd het vir tob voor ‘n klerekas nie. Sy gryp die rokkie en begin klaarmaak.

Haar vriendin is alweer laat (en dit nadat sy sopas ‘n marathon klaarmaak-sessie kafgedraf het om in tyd te wees). Sy sit in die sitkamer en wag dat Desiré klaar maak. Francois wag ook maar geduldig vir sy meisie.

Intussen het sy gehoor dat daar twee ander mense saam met hulle ry. Sy ken vir Justin, maar sy ken nie die ander ou nie. Werner is sy naam, het haar vriendin gesê.

Sy hoor ‘n motor stop en ‘n lang, skraal man kom in die huis gestap. Francois groet hom gelate en stel hom voor aan haar. Werner se blou oë glimlag saam sy mond toe hy sy hand uitsteek om haar te groet. Haar oë dwaal outomaties na sy ring vinger toe. ‘Mmmmmm . . . geen ring,’ dink sy. Aantreklike outjie, wonder wat is sy storie?”

Sy gaan sit weer half ongemaklik na hulle gegroet het, terwyl die twee mans aan die gesels raak. Justin kom ingestap en Desiré is ook gereed. Die groepie van vyf val in die pad.

Sy sit tussen Justin en Werner agter in die kar. Justin het sy al ‘n paar keer ontmoet en hy staan haar nie veel aan nie. Die man het altyd kommentaar te lewer en dink om een of ander rede hy is “God’s gift to woman” en die yuppie van die jaar.

Werner aan die anderkant, lyk presies soos die tipe ou wat sy wil ontmoet. Sy wonder hoe oud hy is en of daar dalk ‘n meisie op sy horison is. Haar gedagtes dwaal al om hom, terwyl Desiré gesels. Die atmosfeer in die voertuig is gesellig, met almal wat vir grappies lag of ‘n snaakse storie vertel.

Yolandi sit half ongemaklik, want die rokkie was toe nou nie so goeie idee nie. Hy is veel korter as wat sy gedink het en om in die middel agter te sit met die hoë boots werk nie so mooi saam nie. Die kommentaar wat Justin so nou en dan laat val, help ook glad nie die situasie aan nie. Sy wens hy wil ophou, want al wat sy wil doen is om vir hierdie aangename Werner-mens langs haar te beïndruk.

Madame Zingara is soos iets wat mens nog nooit gesien en beleef het nie. Dis soos ‘n klein wêreldjie op sy eie. Daar is verskillende sinkhuisies buite die arena. ‘n Plek waar jy vir jou ‘n drankie kan koop, een waar ‘n regte gypsy sit, een waar jy kan pool speel met tafels en stoeltjies ens.

Orals is karakters wat die aand sal optree. Dit voel of oë op jou brand en as jy opkyk in die boom of bo-op die dak, is daar ‘n karakter wat soos ‘n standbeeld net daar staan.

Desiré pomp Yolandi in die ribbes om die gypsy te gaan sien. Sy lag dit af. Sy wil veel eerder haar aandag by Werner bepaal.

Hoe meer sy na hom kyk, hoe meer hou sy van hom. Hy het ‘n gemaklike geaardheid en skakel maklik by die groep in. Hy lag lekker as daar ‘n grappie gemaak word en sy kom agter hy het ‘n fyn sin vir humor. Bo dit als, voldoen hy aan al die uiterlike kriteria wat sy van hou: lank, skraal, mooi oë. Werner kom voor soos die tipe ou: “what you see is what you get”.

Voordat haar gedagtes te ver op loop gaan, word almal aangemoedig om hulle sitplekke in te neem vir die vertoning.

Die saal binne laat mens dink aan ‘n tipiese sirkus. Die uitleg is oulik gedoen. In die middel is die verhoog. Ronde tafels is gedek met die snaakste centre piece: ‘n kaal Barbie-tipe pop tussen blomme. Maar aan die ander kant, niks van hierdie sirkus-effek is normaal nie. Die spyskaarte lê op die tafel en almal kyk opgewonde na die opsies om te eet.

Almal grinnik binnemonds toe die kelner vir die aand opdaag. Die man is aangetrek in ‘n Tarzan-pakkie, kompleet met ‘n kopbeen in sy hare. Hy stel homself dramaties aan die tafel voor en begin om die bestellings vir drankies en kos te neem.

Werner sit skuins oorkant Yolandi en sy wens sy het nader gesit, sodat sy met hom kan gesels en hom beter leer ken. Tydens die pouse gaan koop al die meisies ‘n snaakse hoedjie om op die kop te sit in die Madame Zingara Curio Shop. Almal is lekker laf met hul nuwe bykomstighede en daar word baie foto’s geneem. Werner skram van almal weg.

Na ‘n baie suksesvolle, asemrowende vertoning, is daar ‘n geleentheid om bietjie boude te gaan skud. Werner bly by die tafel sit saam met Francois. Desiré trek aan Yolandi se arm om te gaan dans. Vanaf die dansvloer loer Yolandi kort-kort na Werner.

Toe almal tevrede is om huis toe te gaan, kom staan Desiré by Yolandi. “Gaan sien die gypsy voor ons ry. Ek dink regtig jy het bietjie leiding nodig. Gaan hoor net wat sy te sê het. Jy hoef dit nie ter harte te neem nie”.

Yolandi loer skepties na die sinkhuisie waar die gypsy is. Sy besluit om al haar moed bymekaar te skraap en stap soontoe. Toe sy inloer, sit Werner oorkant die gypsy. Verbaas tree sy terug om haar beurt af te wag. Dit is nou ‘n interessante wending wat dinge geneem het. Voel hy ook bietjie verlore soos sy? Soek hy ook na iemand spesiaal? Sy kan nie help om weereens te wonder wat sy storie is nie.

Na Werner se besoek, stap sy versigtig in en gaan sit oorkant die vrou wat haar aan haar oom in Namibië laat dink, ‘n free spirit. Die vrou kyk haar deursoekend aan en sê dan: “Ek is nie ‘n waarsêer nie. Ek gaan nie vir jou kyk wat in jou toekoms aangaan nie. Ek gaan saam jou kyk na jou huidige situasie en met jou daaroor gesels”.

Yolandi kyk dankbaar vir die vrou, sy wou nie regtig geweet het wat in haar toekoms gaan gebeur nie. Die vrou laat haar drie kaarte uit ‘n pak kaarte kies. Hulle word een vir een omgedraai. Sy sal later nie onthou wat almal was en wat elkeen beteken het nie, maar een se boodskap het duidelik in haar binneste vasgesteek: Daar is baie hoop vir jou in jou lewe! Sy glimlag as sy dink oor Desiré wat haar so gepla het om te gaan. Sy het nodig gehad om sulke positiewe woorde te hoor en haar hart voel skoon ligter toe sy by die res van die groep aanskakel.

Oppad terug na die motor, gesels almal opgewonde oor die vertoning , karakters en die spesiale talente wat vanaand op die verhoog te sien was. Werner, Yolandi en Desiré stap agter die res. Hulle gesels oor dit wat die gypsy vir Werner en Yolandi afsonderlik vertel het. Baie van die goed stem ooreen. Werner lag en sê: “Dalk sê sy vir almal min of meer dieselfde ding”. “Dalk”, sê Yolandi glimlaggend, terwyl haar hart weet haar hoop op liefde het opgedaag…

Werner en Yolandi is getroud op 23 November 2013